Uniegebou In Pretoria - Suid Afrika

11th November 2010

Die argitek van die Uniegebou was sir Herbert Baker (1862-1946), wat dit in die neo-Klassieke styl ontwerp en ook ’n amfiteater geïnkorporeer het. Plaaslike rooi sandsteen is gebruik, maar Baker het die boumateriaal eers getoets deur in 1909 die Pretoriase stasie te bou. Baker was ’n Engelsman wat in 1892 na die Kaap gekom en hom plaaslik met verskillende bouwerke onderskei het, onder meer die herbouing en restourasie van die Groote Schuur. Hy het hom daarna in Johannesburg gevestig.

Andries Francois du Toit (1813-1883) was die oorspronklike eienaar van die grond waarop die Uniegebou opgerig is. Hy was ook Pretoria se eerste landdros en het boonop vir die uitleg van die stad gesorg. In dié tyd het hy sy grond, wat  Arcadia genoem is, verkoop aan Stephanus Jacobus Meintjies (1819-1887), na wie Meintjieskop genoem is.

Sowat £1,5 miljoen is toendertyd bewillig vir die gebou wat Suid-Afrikaanse eenheid (destyds nog net tussen Boer en Engelsman) moes versinnebeeld. Die twee vleuels aan weerskante van ’n halfronde deel sou dan ook die Afrikaanse en Engelse deel van die bevolking voorstel.  Die gebou is uiteindelik vir £1 310 640 voltooi, terwyl die perseel £350 000 gekos het.

Baker het self die uitgewerkte klipgroef op Meintjieskop as die perseel gekies en die bestaande uitgrawings gebruik om die amfiteater met terrasse te skep wat sitplek vir 9000 mense bied. Hy het uit die staanspoor nou saamgewerk met die Departement van Bosbou in die beplanning van die landskap en die keuse van bome, struike en ander plante om ’n harmonieuse omgewing vir die gebou te skep.

Die Uniegebou is 275 meter lank en bestaan uit twee identiese kantoorblokke aan weerskante met twee eenderse 55 meter hoë torings; hierdie torings word deur ’n halfmaanvormige sentrale blok verbind, wat op sy beurt die agtergrond vir die amfiteater vorm. Die amfiteater is met beeldhouwerke, plante en poele en fonteine versier.

 Elke kantoorblok bestaan uit drie verdiepings bokant ’n kelderverdieping waar argiewe in betonkluise bewaar word. Die sentrale, geboë hoofgebou bevat komiteekamers, ’n biblioteek en konferensiekamers, terwyl daar in die kelderverdieping kombuise, eetkamers en sitkamers vir die staatsdienswerkers is.

Sover moontlik is slegs inheemse boumateriaal vir die konstruksie van Uniegebou gebruik. Graniet is plaaslik uitgegrawe, terwyl Buiskop-sandsteen aangery en stinkhout en Rhodesiese kiaat vir houtwerk en panele gebruik is. Al die teëls vir die dak en vloere is in Vereeniging vervaardig.

Benewens die 14 160 kubieke meter sandsteen wat gebruik is, het die boumateriaal onder meer ook 14 miljoen stene, 2000 kubieke meter beton, 40 000 sakke sement en 570 kubieke meter graniet ingesluit.

Die hoeksteen is in November 1910 gelê en, danksy die hulp van 1265 werkers, is die gebou in 1913 voltooi. Twee bou-aannemers het daaraan gewerk, te wete Prentice & Mackie, wat die halfronde hoofgebou opgerig het, en die onderneming Meischke, wat vir die twee kantoorvleuels gesorg het.

Die uitleg en plant van die tuine van Uniegebou is in 1919 voltooi. Altesame 31 rose is uit Engeland ingevoer, terwyl party plante uit die Koninklike Nederlandse Kwekery in Rotterdam verskeep is.  Die tuine is vandag pragtig. Toeriste van oral ter wêreld kan ongehinderd by die Uniegebou rondloop en hulle daaraan verlustig.

Die Uniegebou, wat uit unifikasie gebore is, het in Mei 1994 ook die simbool geword van volkome eenwording in Suid-Afrika, toe die land se eerste demokraties verkose president, Nelson Mandela, daar ingehuldig is.

View Gallery
SHARE: